Monday, 24 September 2012

Die Eerste Begrafnis

Ons ry verby die hek, na die afdak wat deur die wag aangedui is. Afdak A. Soos ons om die draai kom sien ek die rye en rye grafstene. Identiese reghoeke wat uit die grond groei met halfsirkel bokante. Everedig gespasieer. Die rye stene verander van diagonaal tot reguit op en af en weer diagonaal soos die kar verby beweeg, nes rye mielies op die lande doen. Ek roep verbaas  uit: "Dit lyk net soos in die flieks!".  Dis `n militere begrafplaas. Hulle lyk blykbaaar almal dieselfde.

Ons is hier om hulde te bring aan Eddie se oom. Sy ma se broer. Die laaste wagter tussen sy generasie en die dood. Al sy voorouers is nou dood.

Ons is die laastes wat opdaag. Die erewag staan gereed met hulle gewere. Die beueler reg om te blaas. Die kapelaan reg om te praat. Die afdak het twee kerkagtige banke wat uit sement gegiet is. Die veterane wat die erewag opmaak wag geduldig todat ek en my kind aan die familie voorgestel is. Ons neem ons plekke in.

Die diens is vol militere verwyssings. Jim is opgeroep vir `n hoër diens en het aangemeld  by die Hoogste Offisier. Dis baie mooi en baie troostend. Dis nie `n baie kerklike diens nie. Daar word nie psalms en gesange gesing nie. Die gebed is kort en kragit. Net een.

Die kapelaan vra ons om Luca se ore toe te druk. Drie skote uit 4 of 5 gewere, ek kan nie mooi onthou nie. Dan word Taps gespeel op die beuel en ek huil. Dis moeilik om die trane terug te hou. Taps klink soos hartseer families wat oor hulle gevalle jong manne huil. Ek huil liggies maar ek huil vir die hele mensdom en al die geliefdes wat hulle verloor het.

Oom Jim is alreeds veras, so daar is nie `n kis waarop die vlag gedrapeer is soos mens gewoond is om te sien nie. Twee lede van die erewag onvou die driehoekige Amerikaanse vlag met seromonie. Sodra dit oop is, trek hulle dit so stuif dat dit klapper in die lug. Oe, dis mooi. Dis so mooi; ten spyte van my linkse, skeptiese sienings oor oorlog en nationalisme kan ek nie verby die mooi van dit kom nie. Dan vou hulle die weer sierlik op en kniel voor Eddie se niggie om dit vir haar aan te bied. Weereens sukkel ek om trane terug te hou. Weereens is dit vir my `n allesomvatende beeld van verlies.

Nadat die veterane opgeruim het, staan Eddie se niggie op en vertel stories van haar pa. Dis al die lekker stories. Die stories wat ons laat lag. Ek vind ook uit dat Oom Jim die Bronze Star, (die vierde hoogste eer in oorlog), verdien het vir uitstekende diens tydens die Tweede Wêreld Oorlog in Duitsland. Niemand weet regtig vir wat nie, want hy het nie daaroor gepraat nie. Hy het wel baie gepraat van sy "gevriesde voete" (vriesbrand) wat hy daar opgedoen het. (Eddie vermeen dat hy ook die Purple Heart het vir die wonde wat hy opgedoen het).

En terwyl sy die stories vertel, onthou ek my ma se begrafnis en besef dat ons, ons mense laat voortleef deur hulle stoires te vertel.

No comments:

Post a Comment